Back to Stop Boer Genocide/ Stop Boere Massamoord

UNPO-kongres 2010

'n Mosie waarin plaasmoorde in Suid-Afrika as ernstige menseregteskendings veroordeel is en 'n ondersoek na die verskillende selfbeskikkingsoplossings vir Suid-Afrika gevra is, is deur die UNPO se Algemene Kongres in Rome aanvaar. Die mosie is deur dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier, voorgestel en gemotiveer. Volgens dr. Mulder is daar 'n belangrike positiewe beeldverskuiwing in die buiteland ten opsigte van Afrikaners.

Dr. Mulder is ook tydens die kongres op UNPO se dagbestuur of presidensie verkies. Die nuwe UNPO-president is mnr. Ngawang Choepel van Tibet.

Dr. Mulder en mnr. André Fourie, voorsitter van die VF Plus se Buitelandse Verhoudinge komitee, het die kongres bygewoon. Die kongres is in Rome in die Italiaanse Senaat gehou. Senator Emma Bonino, vise-president van die Italiaanse senaat en voorheen 'n Italiaanse minster asook senator Marco Perduca van die Italiaanse Demokratiese Party, het as gashere opgetree.

Die bywoning van die kongres en die stel van die mosie is deel van die VF Plus se internasionalisering van die Suid-Afrikaanse situasie, volgens dr. Mulder. Dit help nie om te wag totdat dit te laat is en jou dan op die wêreld vir hulp te beroep nie. Die wêreld behoort deurlopend op hoogte gehou te word oor prestasies maar ook oor menseregtevergrype in Suid-Afrika, het dr. Mulder gesê.

Die kongres het verder die posisie van minderhede binne 'n demokrasie behandel. Politieke oplossings soos magsdeling, federalisme en selfbeskikking is bespreek. In 'n algemene mosie wat deur die kongres aanvaar is, is die belangrikheid van die behoud van 'n eie taal en kultuur in die beskerming van minderhede beklemtoon.

UNPO (Unrepresented Nations and Peoples Organisation) is in 1991 gestig as 'n organisasie wat hom op internasionale vlak vir minderhede en inheemse volke beywer. Van die stigterslede was Tibet, Taiwan, Estonia en Georgië. Tans het UNPO 54 lede wat meer as 200 miljoen mense regoor die wêreld verteenwoordig.

Meer inligting kan verkry word by UNPO se webblad by: http://www.unpo.org of die VF Plus se webblad by: http://www.vf.co.za

1 comment

to comment